Suid-Afrikaanse konsentrasiekampe

Kaart van konsentrasiekampe vir wit mense

Die afbrand van opstalle as deel van die Britse verskroeideaardebeleid tydens die Anglo-Boereoorlog van 1899 tot 1902 het ʼn groot probleem geskep in die vorm van ʼn groeiende getal hawelose Boerevroue en -kinders. Die presiese aanvangsdatum van die konsentrasiekampstelsel om aan hulle ʼn heenkome te bied is onbekend, maar dit blyk ʼn kamp vir hawelose burgerlikes is reeds aan die begin van die oorlog by Mafeking (vandag Mahikeng) opgerig. In hierdie stadium was dit egter nog nie die amptelike beleid of stelsel nie, maar sou teen omstreeks Julie 1900 amptelik word.

Teen daardie tyd was Lord Roberts verplig om wapenneerlêers teen heropkommandering deur die Boeremagte te beskerm. Die enigste uitweg was om hulle en hul gesinne in beskermingskampe (sogenaamde “refugee camps”) te plaas, en gevolglik is sulke kampe in September 1900 in Bloemfontein en Pretoria opgerig. Daar was egter uit die staanspoor ook hawelose Boerevroue met hul kinders in die kampe, asook grysaards wie se huise afgebrand is en wat hulself nie vrywillig onder Britse beskerming geplaas het nie – die sogenaamde “ongewenstes”. Spoedig het hulle die “refugees” in getalle oortref.

Ander kampe wat voor die einde van 1900 ontstaan het, was te Potchefstroom, Irene, Heidelberg, Heilbron, Kroonstad, Norvalspont, Pietermarizburg en Port Elizabeth. Konsentrasiekampe vir swart mense is ook opgerig.

Op 29 November 1900 het Lord Kitchener die opperbevel van Roberts oorgeneem. Onder hom het die afbrandings, nieteenstaande sy verklaarde standpunt daarteen, geensins afgeneem nie. Sy instruksies het heelwat vryheid aan bevelvoerders in die veld verleen. Ook die afbranding van hele dorpe het voortgegaan, soos Wolmaransstad, Bethal, Ermelo, Carolina, Reitz, Parys en Lindley.

Kaart van konsentrasiekampe vir swart mense

Daarbenewens het Kitchener die verwoesting van voorrade met groter ongenaakbaarheid voortgesit. Gesaaides is vernietig en beeste, skape en perde is na die Britse kampe aangejaag of doodgemaak. Sommige diere is vermink en lydend in die veld agtergelaat.

Met Kitchener se groot dryfjagte wat sedert Januarie 1901 van stapel gestuur is, is duisende Boerevroue en -kinders – die “ongewenstes” wie se mans en pa’s nog op kommando was – van die plase verwyder en na bestaande of nuut opgerigte konsentrasiekampe weggevoer. Luidens ʼn verklaring van Joseph Chamberlain, die Britse minister van kolonies in die Laerhuis, is dit om menslikheidsredes gedoen. Die feit dat duisende plaashuise afgebrand en die vroue en kinders daarop onder dwang na die kampe geneem is, sowel as die openbaring dat Kitchener self op verskillende behandeling vir wapenneerlêers (“refugees”) en “ongewenstes” aangedring het, suggereer dat die kampe om militêre redes opgerig is om die Boereweerstand te beëindig. Kitchener het gemeen indien die Boerevroue en hul kinders eers in kampe byeengebring is, sou die burgers op kommando nie meer op die plase voedsel kon kry nie en dan die wapen sou neerlê om met hul gesinne verenig te word.

Gewoonlik kon die vroue en kinders die minimum voedsel, klere en beddegoed saamneem. Hulle is meestal in oop waens of trokke vervoer en moes soms lang afstande te voet aflê. Siekte, liggaamlike gebreke of ouderdom is dikwels nie in ag geneem nie.

Die totale aantal konsenstrasiekampe vir wit mense in Suid-Afrika was 46, met ongeveer 110 000 inwoners. Die meeste van hulle was kinders. Swart Suid-Arikaners is in sowat 66 kampe gehou.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search